Celebrity

Christi-62

Hallo, my naam is Christi. En ek het ietsie om te bely.

As klein dogtertjie het ek ‘n fassinasie met bekendes gehad, of dalk kan ek dit eerder beskryf as ‘n spontane bewondering vir hul uitrustings, haarstyle, en hul interessante antwoorde op joernaliste se ewige vrae. Goed. Voor julle my stilmaak met ‘n nee-man-dis-nie-so-erg-nie-ons-almal-was-daar-deur-sug, wag eers ‘n bietjie, daar’s nog.

In my kleindogtertjiedagdrome, is ék die celebrity wat vlymskerp antwoorde gee in menige onderhoude, geduldig pose vir elke foto, ‘n mode-ikoon wat die land aan die gons hou en eindeloos fassineer en bekoor.

Daar het julle dit. Ja, ek bloos nou.

Wel, daardie kop-in-die-wolke kind het Rekeningkunde gaan swot en ‘n ‘regte’ (?) werk gekry. Die celebrity-drome het drome gebly. Die sin vir die teatreale is egter steeds daar. Die liefde vir lappe, krale, kruise en mooi goeters en opdress.

Ek het dit blykbaar by my Ouma geërf. Ek word Ouma se kind genoem.

Nou die dag trou my nig Mariet. Op Zorgvliet in die Kaap nogal. Groot familie-opgewondenheid. My oom Andri bel om te hoor of Ouma nie groot asseblief saam kan afvlieg Kaap toe nie. Oe toggie, dink ek in die stilligheid, en soms hardop, ek weet darem nie van hierdie uitstappie nie. Ouma is immers nie meer vandag se kind nie.

Na ‘n lang wik en weeg, reël my ma dat Ouma as ‘n assisted passenger afvlieg Kaap toe.

Die vlugpersoneel kloek om Ouma. Kan nie ophou om met haar te gesels nie. Ons mag eerste board. Ouma sit waardig en kalm in die vliegtuig, bid saam met haar benoude skoondogter en kleindogter (dis nou ek) wat padvervoer bo lugvervoer verkies. Wanneer ons land word ons vriendelik vergesel na die bagasieband.

By die lieflike wynlandgoedtroue is Ouma getooi in haar signature koninklike pers. Kopdoek om haar rooi hare en klingelende armbande om haar pols. Al wat ‘n familielid is wil ‘n foto neem saam met Ouma. ‘n Wildvreemde meisie kom sit by Ouma om sommer net te kom sê hoe merkwaardig sy is en hoe graag sy die ouerwordreis eendag met net soveel elegansie soos Ouma wil aanpak. Ouma glimlag net skaam.

Die volgende dag durf ek, sus Corli, my ma en Ouma die paaie aan. Ons ry al langs die kus tot by Chapman’s Peak. Sy geniet die amper-kitch dekor van Cape-to-Cuba in Kalkbaai terdeë. Sy klim treetjie vir treetjie die steil trappies na Corli se kamer in haar Stellenbosch-woonstel. Ek protesteer benoud. Wat as Oumie by die trappe afval? Nee, sy wil graag sien waar Corli bly. Haar lewensruimte ervaar.

Teen skemer vra Ouma half verskonend of ons miskien haar neef kan gaan opsoek. ‘Dit sal vir hom baie beteken om my te sien, daar is nie meer baie van ons oor nie’, sê Oumie sag. Nee, sy het nie sy selfoonnommer nie. Ook nie ‘n telefoonnommer nie. Net ‘n adres wat sy van jare tevore onthou. In hierdie tegnologiese eeu vind ons eers nie die straat nie. Google maps kom uiteindelik tot ons redding. Ek aanskou die trane van verrassing oor haar neef se wange en ek moet hard sluk aan die knop in my keel.

Die volgende dag terug op die vliegtuig. Terug Gauteng toe. Die vlugpersoneel wat weereens oor hul voete val om die statige, ietwat eksentrieke, dame te bedien. Ouma wat nog ‘n keer dankie sê dat sy kon saamkom. Dit was so lekker.

Sondagaand terug by die huis, daal die besef op my neer.

So dís hoe ‘n celebrity eintlik lyk.

My ouma. Ouma Orton. My ouma saam met wie ek koekies gebak het. My ouma wat toegelaat het dat ek haar hele kas vol skoene en juwele aanpas en haar blou mascara dra. My ouma met haar pers sonbril, in haar wit Mercedes. My ouma met die rooi hare en geel-en-swart-kolle-rok. My ouma met die verfkwaste in die hand. My ouma met die marshmallow patats en kaasrys, wat naamkaartjies per hand uitskryf elke keer wanneer sy op die plaas onthaal, met ‘n sjokoladetjie vir elke gas. My ouma met die besoekersboek vol liefdevolle boodskappe. My ouma wat vir my ‘n Bennie Boekwurm verjaarsdagkoek bak. My ouma met die onvoorwaardelike liefde vir en toewyding aan Oupa, met die eindelose kniegebede vir haar kinders en kleinkinders. My ouma met haar oneindige deernis vir ons plaaswerkers en dié se kinders. My ouma met die oop hand en hart vir die posbode, die tuinman en elke liewe karoppasser in die dorp. My ouma met die voosgevatte Bybels vol penstrepe. My ouma wat saam met my seerkry as my hart breek. My ouma wat nooit kla nie, al het sy hoeveel seer.

Ek is verwonderd. Nederig. Trots. Die kleindogter van ‘n celebrity.

 Want ek is Ouma se kind.

 

Christi-59

Christi-65

Christi-58

Romp: FOUND collection

Horlosie: WeWood South Africa

Oorbelle: Mungo & Jemima

Kiekies: Miranda van Him and Her Pictures

 

 

4 thoughts on “Celebrity

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: